Spoegwolf
Uit die baard van die boland is gebore ’n ondier. Vier jong mans het besluit om liewer saam geraas te maak. Die resultaat was katastrofies. ’n Harige blinkoog monster het wankelend oor die strate begin loop en saggies skree. Benags het hy in skaduwees en die donker hoeke van feeste en Straatbyeenkomste geremoer. Die musiek was regte Afrikaans en dus eerlik rou. Dit was nie te sag nie, en nie te hard nie.
Dit was die hartklop van ’n dier. Bedags het hy weer opgebreek tot in vier dele: Danie du Toit, die huilende stem – ’n skrywer en met ’n tent van serpe op sy bed. Hy brou bier in sy kas. Chris von Wielligh, die besnaarde hand – ’n Ingeneur van Musiek, hy bou ’n boot agter in ’n vriend se moterhuis. Albert van der Merwe, die brullende bas van die dier. Was ’n jaar lank in Afrika waar hy in ’n Country Western Band gespeel het, het ’n tuin en maak graag skoene. Moskou du Toit, die drommende hart. Is ’n beroemde kok in die Paarl, en slaan graag aan dinge met sy groot hammer. *Nie een van die vier speel Gholf nie.